Maleisië is 'n land in Suidoos-Asië. Die land bestaan uit twee afsonderlike dele, geskei deur die Suid-Sjineese See: Wes-Maleisië of Malakka, in die noorde begrens deur Thailand en in die suide deur Singapoer; en Oos-Maleisië, die noordelike deel van die eiland Kalimantan (eertyds Borneo), in die suide begrens deur Indonesië en in die noorde deur Broenei. Die westelike deel maak sowat 40% van die oppervlakte van Maleisië uit maar daar woon 85% van die totale bevolking.