Stockholm

Article on other languages:

Stockholm


Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Swede Swede
 Administratiewe gewes Stockholms län
 Koördinate 59°19′N 18°4′O
 Stigting 13de eeu


 Oppervlakte:  
 - Totaal 187 vk km
 Hoogte bo seevlak 15 m
 Bevolking:  
 - Totaal (Desember 2007) 795 163
 - Bevolkingsdigtheid 4 252/vk km
 - Metropolitaanse gebied 1 932 763
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2
 Burgemeester Kristina Axén Olin
 Amptelike webwerf www.stockholm.se

Stockholm is die hoofstad en grootste stad van Swede met 'n oppervlakte van 187 vierkante kilometer en meer as 795 000 inwoners.

As die politieke, ekonomiese en kulturele sentrum van die land word Stockholm veral deur die kontras van land en water (die stad strek oor veertien eilande en lê digby 'n eilandgroep met sowat 24 000 klein eilandjies), historiese en moderne boukuns (die ou stadskern Gamla Stan, waarvan die vroegste dele uit die 13de eeu dateer, is een van die grootste Middeleeuse stadsbuurte in Europa en uniek in sy soort), landelike voorstede en besige sakesentrum, en die lange, helder nagte van die Skandinawiese somer en kort winterdae gekenmerk.

Riddarholmen en die ou stadskern Gamla Stan (Ou Stad)

Vanweë sy ligging op veertien eilande word Stockholm as een van die pragtigste stede ter wêreld beskou en dikwels ook die "Venesië van die Noorde" genoem; sy 13de eeuse stigter het 'n strategiese plek gekies waar die uitgestrekte Mälarmeer in die Oossee uitmond. Water beslaan sowat 'n derde van Stockholm se oppervlakte sodat brûe en jaghawens 'n belangrike bestanddeel van die stad geword het. 'n Doeltreffende omgewingsbeleid het verseker dat hengelaars selfs in die middestad van Stockholm salms kan vang - die stad se wateroppervlaktes pronk in die algemeen met drinkwaterkwaliteit. Danksy die invloed van die see en die warm Golfstroom het Stockholm 'n gematigde klimaat met aangename somers en sneeuvalle tussen Januarie en Maart.

Stockholm het lankal tot die belangrikste toeristebestemming in Skandinawië ontwikkel en vervul in baie opsigte 'n rol as die kulturele hoofstad van die Nordiese lande. Stockholm staan daarnaas internasionaal bekend as die moederstad van die Nobelprys.

Inhoud

Etimologie

Die oudste verwysings na die stad, wat die naam Stockholm gebruik, dateer uit die 13de eeu en kom in twee Latynse dokumente van Julie 1252 en 19 Augustus 1252 voor. Daar word aangeneem dat die stadsnaam van die versterkings tussen die Mälarmeer en die Oossee afgelei is wat met boomstamme (Sweeds: trästockar) gebou is.

Volgens 'n ander teorie is die naam van die Oud-Sweedse woord stock afgelei wat letterlik "'n groep van" beteken het - Stockholm kan dus ook as "'n groep van eilande" vertaal word.

Die naam in ander tale

Reeds in sy vroeë geskiedenis - die ontstaantydperk van die eerste skriftelike verwysings na Stockholm - het Finssprekende bewoners van die Botniese Golf se oostelike kusgebiede in die stad gevestig en dit Tukholma genoem (tukki is die Finse woord vir "boomstam"). Die groot aantal Duitssprekende inwoners het daarenteen die Sweedse benaming Stockhom bybehou.

In twee van Swede se amptelike minderheidstale, Meänkieli (Tornedal-Fins) en Samies, word Stockholm respektiewelik Stokholmi en Stockholbma genoem. In Latyn word 'n kort vorm, Holmia, as benaming vir Stockholm gebruik.

Byname

Stockholm se talle byname sluit "Venesië van die Noorde" (Nordens Venedig), Eken ("Eikeboom"), "Pêrel van Europa" (Europas Pärla), Kungsbudane en "Koningin van die Mälarmeer" (Mälardrottningen) in. 'n Bekende skertsnaam is Noll-åtta ("Nul-agt").

Die munisipaliteit Stockholm bemark die hoofstadgebied sedert 2006 as The Capital of Scandinavia ("Die Hoofstad van Skandinawië") en wys daarop dat die stad homself as die natuurlike middelpunt van Skandinawië, sy ekonomiese sentrum en toonaangewende kultuurstad beskou. Die bynaam en bewerings, wat daarmee gepaard gaan, het besware van ander Skandinawiese hoofstede uitgelok.[1]

Geografie

Stockholm se landskapsvorm het in die loop van die stad se geskiedenis as gevolg van Skandinawië se postglasiale opheffing sterk verander. Stadsdele, wat vandag deel van die vasteland uitmaak, was enkele honderd jaar gelede nog eilande.

Die oorgang van die Mälarmeer met sy soet water na die Oossee

'n Seeboesem van die Oossee omsluit die stad in die ooste met talle inhamme, landtonge en sowat 24 000 rotseilande (sogenaamde skere). Hierdie eilandgebied word in Sweeds Skärgården genoem.

Stockholm is by die uitmonding van die Mälarmeer (die Riddarfjärden) in die Oossee geleë. Die Mälarmeer strek oor 'n afstand van 120 kilometer in westelike rigting na die binneland. Slussen, 'n sluis in Stockholm se middestad, skei die Mälarmeer se soet water van die Oossee se soutwater in die ooste.

Water bedek sowat dertig persent van die stad se totale oppervlakte. Die Mälarmeer is Stockholm se hoofsaaklike drinkwaterbron, en danksy die hoë watergehalte kan 'n mens selfs in die stadsentrum vir salms hengel. Stockholm is op veertien eilande geleë wat deur 53 brûe met mekaar verbind word. Bosgebiede beslaan eweneens 'n groot deel van die stadsgebied.

'n Grintmorene, wat tydens die Ystydperk as gevolg van vergletsering ontstaan het en deur die Mälarmeer se uitloop deurbreek is, loop in noord-suidelike rigting. Die eilande in die stroom is oorblyfsels van hierdie bergrug.


Panoramiese uitsig oor Stockholm
Panoramiese uitsig oor Stockholm, soos gesien vanaf die Stadshustornet ("Stadshuistoring")


Geskiedenis

Vroeë geskiedenis

Die stadsgebied van Stockholm het op grondgesteente van gneiss en graniet ontstaan wat sowat twee miljard gelede gevorm het. Oor 'n tydperk van baie miljoen jare het krake in die gesteentelaag begin verskyn wat vanuit die noordweste in suidoostelike rigting loop en deur riviere geleidelik tot valleie omgeskep is. Die huidige mere Långsjön, Magelungen en Drevviken is die resultate van hierdie geologiese proses. Uiteindelik het breuke begin vorm wat in oos-westelike rigting loop en onder meer die huidige hoë, donker rotswande langs die noordoewer van Södermalm geskep het.

Die breuke, wat in noordelike rigting loop, is drie miljoen jaar gelede deur 'n reeks ystydperke geslyp, terwyl hul suidelike eweknieë nie deur hierdie proses geraak is nie. Gedurende die laaste koue periodes van die Pleistoseen (70 000 tot 9 500 v.C.) het yslae met 'n dikte van tot by twee kilometer die streek bedek. Alhoewel die ys alle spore van vroeë lewe in die gebied uitgewis het, neem wetenskaplikes nogtans aan dat mense ongeag die gebrek aan ageologiese bewyse die streeks reeds voor die ystydperk bewoon het. Die oorblyfsels van 'n mammoet is in die stadsentrum van Stockholm opgegrawe.

Rotswande in Södermalm

Toe die ys omstreeks 11 500 v.C. afgesmelt het, is die huidige stadsgebied aanvanklik deur water oorstroom sodat die destydse seevlak veertig meter hoër as vandag gestyg het, en eers later het die land geleidelik begin rys om die eerste klein eilandjies te vorm. Die bergrûe uit sand, gruis en rotse, wat deur die ys agtergelaat is, getuig nog steeds van die destydse spoed van jaarliks 250 meter waarmee die yslaag oor 'n periode van twee eeue teuggewyk het. Onder die yslaag het riviere eskers (of smeltwaterrûe) gevorm soos byvoorbeeld die uitgestrekte Brunkebergsåsen wat met sy steil hellings nog steeds 'n natuurlike versperring in die stadsentrum van Stockholm is.

Aan die begin van die Steentydperk - sowat 1 000 jaar later - het die eerste mense hulle in die gebied gevestig wat destyds deur 'n relatief warm Mediterreense klimaat gekenmerk was. As gevolg van die postglasiale landopheffing is argeologiese oorblyfsels van hierdie nedersettings veraf van die huidige kus en die metropolitaanse gebied geleë. Vondse sluit 'n verskeidenheid werktuie in, waaronder pylspitse wat uit kwarts en vuursteen vervaardig is. Hierdie vroeë beskawing van jagters en versamelaars het hoofsaaklik jag op robbe gemaak.

In die laat Steentydperk (omstreeks 4 200 tot 1 800 v.C.) het die plaaslike bewoners begin om permanente nedersettings op te rig, alhoewel die skaarste aan voedselbronne soms nog 'n tydelike nomadiese leefwyse noodsaaklik gemaak het. Behuisings is op sterk pale gebou wat in die grond geboor is. Grafvondse dui op 'n gevorderde beskawing wat steenbyle, keramiek, gesofistikeerde kledingstukke en ander indrukwekkende gebruiksgoedere vervaardig het.

As die hoofstad van die Mälarvallei het Stockholm twee historiese voorlopers - Birka (omstreeks 790-975 n.C.) en Sigtuna, wat nog steeds bestaan en die gebied in die periode tussen 1000 en 1240 oorheers het. Daarna het Stockholm se opgang begin.

Die Middeleeue

Hierdie fragment van 'n runesteen by die hoek van Prästgatan en Kåkbrinken, wat deur argeoloë U 53 genoem word, is waarskynlik in 'n nedersetting uit die Ystertydperk naby die historiese stadskern van Stockholm gevind en hergebruik as boumateriaal vir 'n huis

Historiese dokumente, wat na Stockholm verwys, het eers lank ná die stad se stigting ontstaan, en min is bekend oor die ontwikkeling van Stockholm in die middel van die 13de eeu. Dokumente soos briewe en dagboeke, wat uit hierdie periode bewaar gebly het, dui egter daarop dat Stockholm in die laat 1270's en dwarsdeur die 1280's vinnig gegroei het om uiteindelik die grootste stad in die land te word.

Geskiedkundiges het nog nie konsensus bereik oor die agtergrond van hierdie groei nie. Dit was moontlik 'n beplande ontwikkeling wat deur die Sweedse koning en Duitse handelaars aan die gang gesit gesit is, of Stockholm het skielik begin groei. Destyds het strate 'n stad gewoonlik soos die blokke op 'n skaakbord verdeel, veral in Duitsland en Pole, maar hierdie soort straatrooster word in die Middeleeuse Stockholm nie aangetref nie sodat die tweede hipotese meer waarskynlik lyk.

Die Middeleeuse Erik-kroniek uit die jaar 1252 verwys na die heerser Birger Jarl as die stigter van Stockholm. Hy was omstreeks 1250 blykbaar van plan om 'n vesting te bou wat die Mälarmeer teen plunderings deur seerowers sou beskerm, maar moontlik ook om sy posisie in Swede te versterk en ekonomiese groei te bevorder. Swede was destyds al vyftig jaar lank in 'n verbete stryd van verskillende politieke faksies verwikkel en kon die bou van die eerste werklike stad in die land nouliks bekostig.

Volgens 'n ooreenkoms met die magtige Duitse Hansestad Lübeck het Birger Jarl Duitsers uitgenooi om hulle as nuwe burgers in Swede te vestig en sekere voorregte aan voornemende immigrante toegesê. Terwyl daar geen historiese dokumente bewaar gebly het wat na Duitse setlaars as die stigters, beplanners en boumeesters van Stockholm verwys nie, berig destydse bronne oor die vestiging van groot getalle Duitsers in Swede en die gelyktydige begin van mynbou-aktiwiteite in die land.

Hierdie ou hyskraan, wat bo Järntorget hang, dateer uit die Middeleeue toe Järntorget nog 'n besige markplein was

Maar eers onder die heerskappy van Magnus Ladulås (1275-1290) het Stockholm 'n werklike ekonomiese deurbraak ervaar. Magnus het nie alleen die politieke en ekonomiese bande met Lübeck en die Hansebond verstewig, maar ook die Sweedse invloedsfeer na Gotland en die stad Visby uitgebrei en die administrasie van Swede gestabiliseer. Gedurende sy regentskap het 'n aantal handelsentra stadstatus verkry, en alhoewel die term "hoofstad" waarskynlik nog nie in sy politieke woordeskat voorgekom het nie, het Magnus van Stockholm nogtans de facto tot die administratiewe sentrum en koninklike setel van Swede verhef. Die kasteel, wat deur Birger Jarl opgerig is, en die beskerming wat dit kon bied was die voorvereiste om 'n Middeleeuse stad te skep wat aan kontinentale Europese standaarde kon voldoen, en in Magnus se tyd het Swede uiteindelik ook oor die nodige organisasievernuf en finansiële bates beskik om 'n sodanige ontwikkelingsproses aan die gang te sit. Die stadsmuur van Stockholm was een van die grootskaalse bouprojekte wat die kapasiteit en vermoë van 'n heerser geverg het en nie deur die bewoners van 'n nuutgestigte nedersetting sou kon bekostig word nie.

Die handels- en uitvoerbedryf is gedurende die Middeleeue deur Duitse koopmans oorheers (volgens historiese belastingdokumente, die sogenaamde skatteböcker, was sowat 'n derde van Stockholm se belastingbetalers boorlinge van Duitse stede en gebiede soos Lübeck, Danzig en Wesfale). Die meeste van Stockholm se koopmans het op of naby die pleine Kornhamnstorg ("Koringhaweplein") en Järntorget ("Ysterplein") in die suidelike hoek van die stad gewoon. Die plaaslike boeregemeenskappe van die omgewing het Stockholm van voedsel en roumateriale voorsien, terwyl die plaaslike ambagsmanne hul goedere binne die stadsmuur vervaardig het. Hulle was op die sentrale plein van Stockholm, Stortorget, gekonsentreer of het in die twee oudste strate in die stadsentrum gewoon wat nog steeds na die ou ambagte verwys: Köpmangatan ("Koopmansstraat") en Skomakargatan ("Skoenmakerstraat"). Vissers en timmermans het veral die buurt langs die oostelike waterkant bewoon, met uitsondering van die suidelike strook wat naby die sogenaamde Koggahamnen ("Koggehawe") geleë was waar die koopmans se groot seevarende skepe voor anker gelê het. Die westelike gedeelte van Stockholm langs die deurgangspad Västerlånggatan het 'n soort vroeë nywerheidsentrum gevorm wat deur 'n groot verskeidenheid ambagsmanne bewoon is, waaronder slagters, smede, timmermans en bakkers. Die koninklike kasteel was in die noordelike gedeelte van die eiland Stadsholmen geleë.

Sten Sture die Ouere se intog in Stockholm. Skildery deur Georg von Rosen uit die jaar 1864

Die laat 15de eeuse bevolking van Stockholm het volgens beramings van geskiedkundiges tussen 5 000 en 7 000 mense beloop sodat die stad selfs in 'n Middeleeuse konteks in vergelyking met Parys (100 000 inwoners), Londen en Keulen (40 000), Lübeck (25 000), Hamburg en Bremen (omstreeks 20 000) as 'n relatief klein nedersetting beskou moet word. Stockholm was nogtans by verre die grootste stedelike sentrum in die Sweedse koninkryk waar die tweede grootste stad, Kalmar of Åbo, nie meer as tussen 1 000 en 2 000 mense gehuisves het nie.

In die onstuimige Laat-Middeleeuse tydperk was die beheer oor Stockholm en sy kasteel 'n beslissende faktor in enige Sweedse magstryd. Stockholm is derhalwe verskeie kere aan langdurige blokkades blootgestel en verskeie kere deur Sweedse en Deense faksies beleër wat die Kalmarunie betwis het.

In 1471 het Sten Sture die Ouere koning Christian I van Denemarke in die Slag van Brunkeberg verslaan, maar is in 1497 gedwing om Stockholm weer aan Hans van Denemarke af te staan. Sten Sture het in 1501 weer die mag oorgeneem en sodoende 'n Deense blokkade uitgedaag wat van 1502 tot in 1509 voortgeduur het en uiteindelik met 'n kortstondige vredesluiting besleg is. Hans se seun, Christian II van Denemarke, het dieselfde ambisies soos sy vader gehad en in die jare 1517 en 1518 twee pogings onderneem om die stad te verower. Uiteindelik het hy Stockholm beleër en koningin Christina Gyllenstierna sodoende gedwing om in 1520 te kapituleer.

In November van dieselfde jaar het aartsbiskop Gustav Trolle sy bondgenoot Christian van Swede gekroon. Gesamentlik het hulle in die sogenaamde Bloedbad van Stockholm met hul gemeenskaplike vyande, 'n aantal plaaslike adellikes en ander burgers, afgereken en hulle laat onthoof. Toe koning Gustav Wasa Stockholm drie jaar later beleër en ingeneem het ('n historiese gebeurtenis wat die einde van die Kalmarunie en die Sweedse Middeleeue gemarkeer het), het hy elke tweede huis verlate aangetref.

Die Wasa-tydperk: Reformasie en ekonomiese opswaai

Hierdie boekskildery uit die Triomf van Wasa beeld Gustav Wasa se beleg van Stockholm in 1521 uit
Die Triomf van Wasa: Die koning raak van die Rooms-Katolieke Kerk ontslae, wat hier deur 'n vrou versinnebeeld word

Nog op die dag van sy intog in Stockholm het Gustav Wasa aan alle burgers, wat verkies het om in die stad te bly, die beskerming van hul lewens en eiendom gewaarborg, en vir diegenes, wat besluit het om Stockholm te verlaat, die reg om hul besittings saam te neem mits hulle hul huise op die koning sou oordra. Die koning het uiteindelik in 1529 ook die vroeëre voorregte van Stockholm herstel. Die burgers het nou byna weer dieselfde voorregte geniet soos in die jaar 1436, waaronder die monopolie op verskeie belangrike handelsektore. Om sy beheer oor die stad te verseker, het die monarg - net soos koning Christian voor hom - regstreeks invloed op die verkiesing van raadslede en magistrate uitgeoefen. Aanvanklik het die wette van die landelike distrikte, wat die benoeming van regters in die sogenaamde häradshövdingar gereël het, 'n teengewig teen die koninklike invloed gevorm aangesien hulle bepaal het dat die koning die mees bekwame leier onder drie kandidate moes kies. Vanweë Gustav Wasa se sterk posisie het hierdie wette sy invloed nie werklik begrens nie, en daar was nouliks sprake van 'n skeiding tussen die regspraak van die Sweedse staat en dié van die stad waarin die owerhede gesetel was.

Teen die middel van die eeu is die aantal raadslede van twaalf tot negentien verhoog, nie alleen om die bestuur van Stockholm op 'n professionele basis te bedryf nie, maar ook om aan die staat meer beheer oor die handelsaktiwiteite te gee. Hierdie eise van staatskant af het 'n swaar las op die raadslede van Stockholm geplaas, wat hul amp nog steeds as vrywilligers beklee het en meestal self koopmans was. Stockholm het sodoende baie van die onafhanklikheid, wat dit nog in die Middeleeue geniet het, ingeboet om in politieke en finansiële opsig onder die beheer van die staat te bly.

As gevolg van die Bloedbad van Stockholm, waarin talle bekende burgers vermoor is, was Gustav Wasa nie net in staat om na goeddunke nuwe magistrate te benoem nie, maar kon daarnaas ook kerke en ander religieuse instellings dwing om groot hoeveelhede goud- en silwervoorwerpe aan hom oor te handig: Die kerkskatte was vir die koning 'n welkome ekstra inkomste om sy oorlogskuldlas in Lübeck af te betaal.

Met die geestelike Olaus Petri (1493-1552), wat hy tot stadsekretaris benoem het, het die koning oor 'n bondgenoot beskik om die nuwe gedagtes van die Protestantse Reformasie binne 'n kort tydperk ook in die praktyk toe te pas. Vanaf 1525 is preke in Sweeds gehou, terwyl Latyn as kerktaal in 1530 afgeskaf is. Vir die groot aantal Duits- en Finssprekende burgers is in 1530 Duitse en Finse kerkgemeentes gestig wat vandag nog steeds bestaan. Die besluit om godsdienstige welsynsorganisasies tot een enkele instelling saam te smelt, het egter rampspoedige gevolge vir gestremde burgers ingehou - die nuwe organisasie was nie meer in staat om sy dienste in dieselfde omvang soos sy voorgangers aan te bied.

Die afsterwe van Gustav Wasa het met groot veranderings in die plaaslike regering gepaard gegaan. Gedurende die heerskappy van sy seuns in die periode tussen 1561 en 1611 is die stadsraad steeds deur 'n verteenwoordiger van die kroon begelei, terwyl raadslede en magistrate deur die koning benoem is.

Toe Erik XIV in 1561 as koning van Swede bekroon is, het die titel erflik geword. Die staat het sy inkomste nou nie meer uit koninklike besittings en voorregte verkry nie, maar is uit belasting gefinansieer. Met die geleidelike ontbinding van die Duitse Ridderorde het Swede die geleentheid gekry om sy magsfeer na die Baltiese lande uit te brei; die stad Reval (tans Tallinn) het die Sweedse koning as beskermheer teen Rusland en Pole verwelkom.

Swede het in hierdie periode nog steeds nie oor die regeringsinsinstansies en burokrasie beskik waardeur Stockholm tot 'n ware administratiewe sentrum sou kon ontwikkel het nie, tog het koning Erik XIV alles gedoen om met dieselfde skitterende hofhouding te pronk soos sy eweknieë elders in Europa. Die koninklike kasteel het sodoende tot die beduidendste werkgewer in Stockholm ontwikkel wat tussen twee derdes en driekwart van die stad se totale invoere verbruik het.

Verwysings

  1. ^ Dagsavisen: Stockholm forarger. 16 Maart 2006

More about Stockholm: stockholm syndrome, stockholm vacation, hotel stockholm, stockholm sweden, flight to stockholm, grand hotel stockholm, stockholm tour, stockholm nj real estate, stockholm university,

This article is from Wikipedia. All text is available under the terms of the GNU Free Documentation License.